WES-KAAP. – ’n Vrou (47) wat uitgeput geraak het tydens ’n stap op Tafelberg langs Platteklip-kloof, kon Saterdagaand met behulp van ’n eksoskelet (robotic legs) op haar eie voete van die berg afstap. Dit is die eerste keer dat dié tegnologie tydens ’n bergredding in Suid-Afrika gebruik is.
Volgens Wildernis-soek-en-redding (WSAR) het die gesin Saterdagmiddag met die Platteklip-ravyn opgestap. Nadat die kabelkar vir die dag gesluit het, het die gesin vroegtydig die noodnommer 021 937 0300 geskakel om te laat weet dat hulle begin afstap en moontlik hulp sou benodig. ’n Klein reddingspan, onder wie ’n paramedikus van die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand se nooddienste, het hulle tegemoetgegaan.
Toe die 47-jarige vrou weens uitputting sukkel om verder te stap, is ’n battery-aangedrewe Hypershell-eksoskelet om haar heupe en dye aangebring. Die toestel het haar bewegings ondersteun en haar in staat gestel om teen die steil afdraande met die reddingspan se ondersteuning bergaf te stap. Die redding is kort ná 23:00 afgehandel en die hele gesin is veilig van die berg af.
WSAR het die gesin geprys omdat hulle vroeg om hulp gevra het voordat die situasie ’n noodgeval geword het. Stappers word aangeraai om vroeg te begin, die kabelkar se bedryfstye na te gaan, ’n flits, water en warm klere saam te neem en die reddingspan se noodnommer, 021 937 0300, op hul fone te stoor.