Brekende Nuus
Nuus

SAMRK waarsku oor kinders se privaatheid en veiligheid aanlyn

Foto: Ter illustrasie

GAUTENG. – Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) gaan volgende maand ’n verslag bekend stel oor kinders se reg op privaatheid en veiligheid op aanlyn platforms. Die fokus sal op leemtes in Suid-Afrika se wetgewing en die beskerming van kinders teen aanlyn gevare wees.

Die verslag, Children’s Rights to Privacy and Safety on Online Platforms: Legislative Gaps and the Case for Reform, bevat die bevindinge van ’n konferensie wat op 28 Maart in Johannesburg gehou is. Die konferensie het verteenwoordigers van regeringsdepartemente, VN-agentskappe, reguleerders, tegnologiemaatskappye, burgerlike organisasies en kinders self byeengebring. 

Volgens die SAMRK identifiseer die verslag belangrike leemtes in wetgewing, onder meer in die wet op die beskerming van persoonlike inligting (Popia), die films en publikasiewet, die kuberwet en die elektroniese kommunikasie- en transaksiewet. Hierdie leemtes kan kinders blootstel aan onder meer aanlyn versorging, uitbuiting, kuberafknouery, skadelike inhoud, verslawende platformontwerp en die insamel en publikasie van persoonlike inligting sonder toestemming. 

Die verslag bevat ook The Children’s Declaration, wat deur kinders wat aan die konferensie deelgeneem het, aanvaar is. Daarin word ’n beroep op die regering, tegnologiemaatskappye, skole, ouers en burgerlike organisasies gedoen om stappe te doen om kinders se regte in die digitale omgewing beter te beskerm.

Die verslag word op 22 Oktober van 10:00 tot 12:00 by Sentinel House, Sunnyside Office Park, Princess of Wales Terrace 32, Parktown, bekend gestel. Lede van die publiek wat die bekendstelling wil bywoon, moet teen 22 Oktober per e-pos by [email protected] RSVP.