Brekende Nuus
Nuus

Saag Jonker gevind ná hy deur vloedwater meegesleur is

Foto's: OPSA en Hannes Visser

WES-KAAP. – Saag Jonker (85), die bekende Oudtshoornse volstruisboer wat sedert Sondag vermis was nadat sy voertuig deur vloedwater meegesleur is, is volgens ’n betroubare bron gevind.

AO Christopher Spies, polisiewoordvoerder, het aan Nuusflits bevestig dat ’n voertuig en die liggaam van ’n man Dinsdagmiddag uit die Olifantsrivier naby Oudtshoorn gehaal is.

Die polisie het nog nie die identiteit van die oorledene amptelik bevestig nie.

Volgens Spies is lede van die Oudtshoorn-polisie en nooddienspersoneel, insluitend polisie-duikers, ontplooi om die Olifantsrivier te deursoek. Die soektog is Dinsdagoggend hervat met polisie-duikers, opgeleide K9-soek-en-reddingspanne, plaaslike polisie en die Oudtshoorn-brandweer.

Volgens inligting van die toneel het die soektog tot die ontdekking van die voertuig gelei. Die liggaam van ’n man is omstreeks 15:00 uit die rivier gehaal.

’n Geregtelike doodsondersoek is geopen. ’n Nadoodse ondersoek sal later vandeesweek gedoen word om die oorsaak van sy dood vas te stel.

’n Betroubare bron het intussen aan Nuusflits bevestig dat dit Jonker is wat gevind is.

Jonker het Sondag omstreeks 12:50 probeer om ’n laagwaterbrug sowat 3 km buite Oudtshoorn in die Rooiheuwelgebied oor te steek toe die Olifantsrivier sy bruin Toyota Land Cruiser meegesleur het. Hy was sedertdien vermis.