DUBAI. – Hiér is die video waarin passasiers gesien kan word terwyl hulle die beseerde kapt. Smit Machchhar aan boord van ’n Flydubai-vliegtuig probeer help. Hy is Woensdag tydens die vlug van Dubai na Tel Aviv met ‘n skerp voorwerp gesteek.
Die kort video wat op sosiale media versprei word, wys die bebloede kaptein nadat passasiers hom bereik het. Die beeldmateriaal is deur verskeie internasionale nuusorganisasies gepubliseer en wys van die onmiddellike nasleep van die voorval aan boord van die vliegtuig.
Die Boeing 737 MAX 8, vlug FZ1073, het op 30 September omstreeks 03:05 GMT vanaf Dubai vertrek met Tel Aviv as bestemming en het aanvanklik tot sowat 34 000 voet geklim. Sowat twee uur ná vertrek het ’n gewelddadige voorval in die kajuit uitgebreek waartydens Machchhar, ’n Indiese kaptein, volgens berigte deur sy kollega met ’n mes aangeval is. Die vliegtuig het daarna binne minder as ’n minuut meer as 14 000 voet verloor voordat dit gestabiliseer het.
Machchhar het ondanks sy beserings daarin geslaag om die kajuitdeur oop te sluit, waarna passasiers, onder wie ander vlieëniers wat as passasiers aan boord was, die kajuit binnegegaan en die aanvaller oorrompel het. Die vliegtuig is vervolgens na Tabuk in Saoedi-Arabië herlei en het veilig geland. Kapt. Machchhar is ná die landing in ’n hospitaal in Tabuk opgeneem en word volgens die Indiese ambassade in Saoedi-Arabië as stabiel beskryf.
Berigte sê hy het sowat 9 750 vliegure op Boeing 737-vliegtuie en het voorheen langer as ’n dekade vir SpiceJet gewerk, onder meer as ’n opleidingskaptein, voordat hy by flydubai aangesluit het. Die presiese motief vir die aanval en die volledige volgorde van gebeure word steeds ondersoek.
Bronne: Israel War Room, Indian Express, Al Jazeera, Jerusalem Post