Suid-Afrikaners kan in die toekoms hul identiteit digitaal deur hul selfoon verifieer en toegang tot binnelandse sake-dokumente kry, met die departement wat reeds ’n werkende prototipe van ’n digitale ID-stelsel ontwikkel het.
Dr. Leon Schreiber, minister van binnelandse sake, het dié plan op 1 Oktober tydens sy “Home Affairs Quantum Leap”-toespraak by Constitution Hill uiteengesit. Volgens Schreiber is die digitale ID-prototipe reeds gebou en sal die stelsel dit moontlik maak om identiteit digitaal te verifieer en toegang tot binnelandse sake-dokumente deur ’n slimfoon te verkry.
Die digitale ID sal vrywillig wees en die fisiese slim-ID sal steeds beskikbaar bly. Die digitale transformasie sluit ook ’n groot uitbreiding van binnelandse sake-dienste by banktakke in. Tans bied 515 banktakke reeds biometriese dienste aan waar mense onder meer hul slim-ID’s kan kry. Meer as 822 500 mense het volgens Schreiber reeds van dié diens gebruik gemaak.
Die departement beplan om die aantal dienspunte teen die einde van 2026 tot meer as 1 000 uit te brei. Eerste aansoeke vir slim-ID’s en paspoorte sal ook by dié banktakke beskikbaar gestel word, terwyl veilige koerieraflewering van dokumente tot by mense se huise beplan word. Die langtermynplan is om ook ander fisiese binnelandse sake-dokumente, waaronder geboorte-, huweliks- en sterftesertifikate, deur die uitgebreide netwerk beskikbaar te stel.
Schreiber het verder aangekondig dat binnelandse sake ’n elektroniese reismagtigingstelsel ontwikkel om die visumproses van begin tot einde te digitaliseer en te beveilig. Die stelsel is reeds beskikbaar vir kortverblyf-visumaansoeke uit 53 lande, met studie- en werksvisums wat vroeg in 2027 by die digitale stelsel gevoeg sal word.
Druk hier om die volledige toespraak te lees.