KWAZULU-NATAL. – Sewe mense, onder wie ses passasiers van ’n langafstandbus, asook ‘n vragmotorbestuurder, is beseer in ’n ongeluk tussen ’n bus en vragmotor op die N3 naby Hidcote.
Craig Botha van KwaZulu Private Ambulance Service sê die mediese span is omstreeks middernag na die ongeluk ontbied waar hulle gevind het ’n bus met 59 passasiers op pad na Johannesburg was in ’n hewige botsing met ’n vragmotor. Die impak het die vragmotor van die pad gedwing, waarna sy vrag in die aankomende verkeersbane gestort het.
Die sewe beseerdes het beserings van gering tot ernstig opgedoen. Paramedici het almal op die toneel gestabiliseer voordat hulle na nabygeleë hospitale vervoer is.
Geen ander voertuie was volgens die ambulansdiens by die ongeluk betrokke nie. Plaaslike owerhede was op die toneel om die gebied te beveilig, verkeer rondom die uitgestorte vrag te beheer en die oorsaak van die botsing te ondersoek.

