’n Baba of kind met ’n hoë temperatuur kan ouers vinnig bekommerd maak, maar koors is dikwels ’n natuurlike reaksie van die liggaam wanneer dit ’n infeksie beveg. Volgens die Suid-Afrikaanse departement van gesondheid word ’n temperatuur van 38 °C of hoër as koors beskou.
Koors op sy eie is egter nie ’n diagnose nie en die kind se algemene toestand en ander simptome moet ook in ag geneem word. Die departement van gesondheid beveel aan dat ’n kind met koors gereeld vloeistowwe kry om ontwatering te voorkom. Borsvoedende babas moet voortgaan met borsvoeding. Die kind moet gepas vir die weer aangetrek word en genoeg rus kry. Dit beteken ook dat ’n kind nie oormatig toegedraai of met swaar komberse toegemaak moet word nie.
Hoewel baie ouers steeds glo dat ’n kind met koors met lou of koue water afgespons moet word, word dit volgens die huidige Suid-Afrikaanse riglyne nie aanbeveel nie. Afspons en verkoeling kan die kind laat bewe, wat die liggaam se kerntemperatuur eerder kan verhoog.
Wanneer ’n kind ongemaklik of benoud is weens die koors, kan parasetamol volgens die kind se gewig en die aanbevole dosis gegee word. Koorsmedisyne moet egter nie net gegee word met die doel om die temperatuur op die termometer te laat daal nie. Die doel is om die kind se ongemak te verlig. ’n Temperatuur van meer as 40 °C by ’n kind moet dringend verlaag word en mediese hulp moet verkry word. Ouers moet ook dringend hulp soek indien die kind ’n stuiptrekking kry, ’n uitslag ontwikkel wat nie verbleik wanneer daarop gedruk word nie, abnormaal asemhaal, aanhoudend braak, nie normaal drink of eet nie, baie slap of nie juis reageer nie, of tekens van ontwatering toon.
Babas jonger as drie maande met koors het besondere aandag nodig en moet dringend deur ’n gesondheidswerker beoordeel word. ’n Kind wat al langer as 48 uur koors het, of wie se toestand versleg, moet ook mediese advies kry. In Suid-Afrika moet malaria ook oorweeg word indien ’n kind met koors in ’n malaria-gebied woon of onlangs een besoek het.
Die belangrikste is dus om nie net op die temperatuur te fokus nie, maar op te let of die kind drink, normaal reageer, asemhaal en gemaklik is. Indien ’n ouer voel iets is nie reg nie of die kind se toestand versleg, moet mediese hulp eerder te vroeg as te laat verkry word.
Bronne: SA Dept. van Gesondheid, SA Mediese Joernaal, SA Mediese Joernaal