GAUTENG. – ‘n Man is Maandagaand tydens ’n skietery op die R21 in die rigting van OR Tambo Internasionale Lughawe noodlottig gewond. Yusuf Abramjee het Preggy Padayachee as die oorledene geïdentifiseer. Hy was ‘n familielid van maj.genl. Feroz Khan wat na verwagting vandag agter geslote deure voor die Madlanga-kommissie sal getuig. ’n Vriend van Padayachee is in die skietery gewond.
Kol. Dimakatso Nevhuhulwi, polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek ’n saak van moord en poging tot moord ná die skietery. Volgens voorlopige inligting het die oorledene, wat in ’n Fiat gery het, se voertuig glo onklaar geraak en hy het ’n vriend vir hulp gebel. Die vriend het saam met twee ander mense opgedaag. Daar is op hulle geskiet terwyl hulle besig was om te kyk wat fout met die voertuig was.
Die vriend het probeer wegjaag om die skote te ontduik, maar het beheer oor die voertuig verloor en teen ’n versperring gebots. Hy is op die toneel dood verklaar. ‘n Passasier is met ’n skietwond hospitaal toe geneem, terwyl ’n derde persoon ongedeerd was.
Yusuf Abramjee het op sosiale medie gedeel dat Padayachee ’n familielid van Feroz Khan deur ’n huweliksverbintenis was. Padayachee het in Mei namens Khan se familie gepraat nadat Khan geskiet is en het ook kommentaar gelewer nadat Khan in hegtenis geneem is. Abramjee het die skietery as ’n moontlike geteikende aanval beskryf.
Die motief vir die skietery is nog onbekend. Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort.