NOORD-KAAP. – Sunica Müller (31) van Upington veg vir haar lewe ná ’n ernstige motorongeluk buite Olifantshoek op 6 Oktober, waarin haar man dood is. Die egpaar se drie jong kinders, onderskeidelik sewe, vyf en drie jaar oud, is nou sonder hul pa, terwyl hul ma verdere spesialisbehandeling moet ondergaan.
Volgens ‘n fondsinsamelingsveldtog het Sunica ernstige beserings opgedoen, waaronder bloeding en swelling op die brein, ’n gebreekte sleutelbeen en skouerblad, vier gebreekte werwels en drie gebreekte ribbes. Een van die ribbes het haar long deurboor. Sy is aanvanklik na die Kathu Lenmed-hospitaal geneem, waar mediese personeel haar toestand gestabiliseer het. Sy moet nou na ’n privaat hospitaal in Kimberley oorgeplaas word sodat sy spesialisbehandeling en verdere operasies kan kry.
Sunica behoort nie tot ‘n mediese fonds nie en haar familie word deur onverwagte mediese en hospitaaluitgawes in die gesig gestaar, terwyl hulle ook die verlies van haar man moet verwerk en na die drie kinders omsien. Die Hoërskool Kalahari vra op sosiale media die publiek om tot die veldtog by te dra of dit met ander te deel. Druk hier om meer te lees.

