Brekende Nuus
Nuus

Man in hegtenis ná dreigement om toegang tot Moses Mabhida-stadion te keer

Foto: SAPD

KWAZULU-NATAL. – die polisie in KwaZulu-Natal het Saterdag ’n man in hegtenis geneem wat gedreig het om die Moses Mabhida-stadion te sluit om te verhoed dat die MTN8-bekereindstryd tussen Orlando Pirates en Mamelodi Sundowns plaasvind.

Kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder, sê die man het ’n groep mense by King Dinizulu-park bymekaargebring met die doel om ’n optog te hou. Die ander mense wat by hom was, het daarin geslaag om weg te hardloop. Die polisie waarsku dat enigeen wat dreig om onstabiliteit te veroorsaak, ingevolge die wet hanteer sal word. Dis nie volgens die polisie se verklaring bekend gemaak op watter aanklagte die man in hegtenis geneem is nie.

Omvattende veiligheidsmaatreëls is deur die polisie en ander veiligheidsdienste ingestel om te verseker dat die MTN8-bekereindstryd tussen Orlando Pirates en Mamelodi Sundowns veilig by die Moses Mabhida-stadion plaasvind. Die KwaZulu-Natalse gesamentlike operasionele en intelligensiestruktuur (Provjoints), wat onder meer die polisiediens, metropolisie, verkeersinspekteurs en private veiligheidsdienste insluit, het ’n omvattende plan vir verkeersbeheer, stadionveiligheid en die ondersteunersparke ingestel. Dit volg nadat gewelddadige betogings Donderdagmiddag in Durban se middestad plaasgevind het en misleidende plasings op sosiale media oor die wedstryd versprei is. 

Volgens die polisie was Durban en omliggende gebiede betreklik rustig en verhoogde polisiesigbaarheid word gehandhaaf.