Altesaam 30 verdagtes is sedert Donderdag in KwaZulu-Natal en Gauteng in hegtenis geneem weens onder meer openbare geweld, onwettige byeenkomste, versperring en verset teen inhegtenisneming.
Volgens genl.maj. Nonkululeko Phokane, polisiewoordvoerder, is 25 mense in KwaZulu-Natal en vyf in Gauteng aangekeer. Van die verdagtes word verbind met dreigemente om sokkerwedstryde wat Saterdag in Durban sou plaasvind, te ontwrig.
Lt.genl. Puleng Dimpane, waarnemende nasionale polisiekommissaris, het polisiebeamptes en ander wetstoepassingsagentskappe geprys vir hul optrede om openbare orde te handhaaf. Sy sê die polisie sal nie toelaat dat dreigemente, intimidasie of onwettige optrede openbare veiligheid in gevaar stel nie. Die nasionale gesamentlike operasionele en intelligensiestruktuur (Natjoints) en provinsiale strukture (Provjoints) koördineer die optrede. Die ontplooiing van die Suid-Afrikaanse nasionale weermag (SANW) in KZN vorm deel van die breër pogings om die situasie te stabiliseer.
Die polisie sê voorvalle in die Wes-Kaap, Oos-Kaap en Limpopo is ook deur operasionele optrede hanteer. Dimpane het gemeenskappe aangemoedig om inligting met die polisie te deel en vreedsame betogings van misdadige optrede te onderskei. Sy het beklemtoon dat die reg om vreedsaam te betoog nie openbare geweld, plundering, opsetlike beskadiging van eiendom of die versperring van wettige aktiwiteite insluit nie.