MPUMALANGA. – ‘n Man, vermoedelik in sy 50’s, is doodgeskiet en nog ‘n man, sowat 53 jaar oud, is gewond, tydens ‘n gyselaarsvoorval wat hom Sateragoggend op ‘n plaas in Amersfoort afgespeel het. ‘n 55-jarige verdagte het homself glo later doodgeskiet terwyl polisiebeamptes met hom onderhandel het.
Brig. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder, sê die polisie is omstreeks 06:00 oor die gyselaarsituasie ingelig. Met hul aankoms op die plaas het hulle drie mense aangetref wat uit die gyselaarsituasie ontsnap het.
Volgens die slagoffers het die gewapende verdagte hulle as gyselaars aangehou. ‘n Man is doodgeskiet en nog een, wat ook geskiet was, is vir dood agtergelaat. Die gewonde man is per helikopter na ’n hospitaal vervoer.
Die verdagte is daarna na sy huis op dieselfde plaas. ’n Span gyselaaronderhandelaars is ontplooi, maar die man het homself na bewering geskiet terwyl onderhandelinge aan die gang was. Hy is op die toneel dood verklaar.
Die polisie het ’n 9 mm-pistool op die toneel gevind en sake van moord, poging tot moord en ontvoering vir ondersoek geopen. Die verdagte se identiteit is aan die polisie bekend, maar is nog nie bekend gemaak nie.
Sake van moord, poging tot moord, en ontvoering word deur die polisie ondersoek.