GAUTENG. – ’n 55-jarige man is doodgeskiet en ’n ander man gewond tydens ’n skietery by die Little Britain Pub by die Waterkloof Lifestyle Centre in Pretoria. Die oorledenes en die verdagte is moontlik lede van twee verskillende motorfietsklubs, die Macs Biker Group en die Crusaders Biker Group. Die polisie ondersoek ’n saak van moord en poging tot moord ná die voorval wat Saterdagaand omstreeks 20:00 plaasgevind het.
Kapt. Johan van Dyk, Tshwane-distrikspolisiewoordvoerder, sê die polisie het die gewonde man buite die kroeg by die deur aangetref. Hy het ‘n skietwond aan die regterkant van sy bors gehad met ‘n uitgangswond by sy rug en is na ‘n nabygeleë hospitaal geneem. Die 55-jarige oorledene is aan die binnekant van die deur met ‘n skietwond in die middel van sy bors aangetref en is op die toneel dood verklaar. Daar word vermoed dat die koeël reg deur die gewonde man gegaan het, voordat dit die oorledene getref het.
Volgens voorlopige inligting is die twee slagoffers lede van die Macs Biker Group, terwyl die verdagte na bewering met die Crusaders Biker Group verbind word. die polisie beweer ‘n woordewisseling het tussen die verdagte en die gewonde man ontstaan, waarna die verdagte na bewering ‘n vuurwapen uitgehaal en geskiet het. Die verdagte het glo daarna met ‘n motorfiets van die toneel gevlug. Die polisie het ‘n patroondoppie op die toneel gevind.
Die 55-jarige verdagte is opgespoor en in hegtenis geneem. Hy sal na verwagting Maandag in die Hatfield-landdroshof verskyn. Die ondersoek duur voort.
Little Brittain Pub het ‘n verklaring uitgereik wat hier onder gelees kan word.
