Brekende Nuus
Nuus

Man in hof ná noodlottige skietery by Waterkloof-kroeg

Foto: Mac's Familia Pta Moot Facebook-blad

GAUTENG. – Brian Wesley Smith (45) van Lyttelton het Dinsdag vlugtig in die Pretoriase landdroshof verskyn op aanklagte van moord en poging tot moord ná ’n skietvoorval by die Little Britain Pub in Waterkloof waarin Baden Watson (54) dood is en nog ’n man gewond is. Smith se formele borgaansoek sal op 20 Oktober aangehoor word.

Lumka Mahanjana, NVG-woordvoerder, sê die voorval het die aand van 10 Oktober plaasgevind. Volgens die staat het Watson en die ander man Smith by die ingang genader en hom gevra om die kroeg te verlaat omdat hy aan ’n ander motorfietsklub behoort het. Smith het na bewering daarna ’n vuurwapen uitgehaal en op die twee mans geskiet voordat hy op die vlug geslaan het. Watson is op die toneel dood, terwyl die ander man hospitaal toe geneem is. Smith het hom die volgende dag in die vroeë oggendure aan die polisie oorgegee en is daarna in hegtenis geneem.