Brekende Nuus
Nuus

Sassa se betaaldatums vir November aangepas

Foto: SASSA

Die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekuriteit (Sassa) het die betaaldatums vir November 2026 se maatskaplike toelaes in die lig van die komende plaaslike regeringsverkiesings aangepas. Sien die datums onderaan die berig.

Sassa het aangekondig dat ouer persone hul toelaes op Vrydag 30 Oktober ontvang, terwyl gestremdheidstoelaes op Maandag 2 November betaal word. Kindertoelaes volg op Dinsdag 3 November. Begunstigdes wie se toelaes onder hersiening is, moet kennis neem van die spesiale betaaldatum op Donderdag 5 November. Sassa herinner dié begunstigdes om op amptelike kennisgewings te reageer en hersieningsafsprake na te kom wanneer dit versoek word. 

Die agentskap doen ’n beroep op begunstigdes om nie onnodig na Sassa-kantore te gaan nie en om amptelike kommunikasiekanale te gebruik om betalingsinligting te bevestig. Die publiek word ook gewaarsku om versigtig te wees vir waninligting oor maatskaplike toelaes.

Volgens Sassa is die nuwe datums ná konsultasies met verskeie belanghebbendes vasgestel en deur die Nasionale Tesourie goedgekeur. Die aanpassing is daarop gemik om te verseker dat betalings gedurende die verkiesingstydperk veilig en met so min moontlike ontwrigting verwerk word.

ToelaagBetaaldatum
OuerpersoonstoelaeVrydag 30 Oktober 2026
GestremdheidstoelaeMaandag 2 November 2026
KindertoelaesDinsdag 3 November 2026
Toelaes onder hersieningDonderdag 5 November 2026