PRETORIA. – Die polisie werk aan die vestiging van ’n streeksentrum wat intelligensie en inligting van verskillende wetstoepassingsagentskappe sal versamel en ontleed om dwelmhandel en transnasionale georganiseerde misdaad te bekamp. Die beplande sentrum sal samewerking tussen lande versterk en help om misdaadnetwerke wat oor landsgrense heen werksaam is, te identifiseer en aan te pak. Die plan is om dit tydens die ministeriële Troika-vergadering van die Drieparty-beplanningseenheid (TPC), wat tot vandag in Pretoria plaasvind, te bespreek.
Volgens die ministerie van polisie se hooftoespraak by die vergadering word Suid-Afrika, Mosambiek en Tanzanië toenemend deur die onwettige handel in dwelms soos kokaïen, heroïen en metamfetamien geraak. Die dwelms word na bewering onder meer vanaf Latyns-Amerika en langs die oostelike en suidelike kusgebiede van Afrika vervoer, met tradisionele dhows wat gebruik word om besendings na Mosambiek en Tanzanië te neem voordat dit per pad na Suid-Afrika vervoer word. Die TPC is met die ondersteuning van die VN se Kantoor vir Dwelms en Misdaad (UNODC) gestig om dié bedreiging deur beter intelligensie-uitruiling, grensbeheer en gesamentlike optrede te bekamp.
Die vergadering fokus ook op finansiële ondersoeke, die terugwinning van bates wat met misdaad verbind word en die verbetering van samewerking tussen wetstoepassingsagentskappe. Deelnemende lande wil nie net dwelmbeslagleggings en inhegtenisnemings verhoog nie, maar ook kriminele netwerke en hul finansiële bronne ontwrig. Angola en Uganda het aansoek gedoen om by die TPC aan te sluit omdat hulle soortgelyke uitdagings ervaar en is as volwaardige lede met stemreg tot die Drieparty-beplanningseenheid aanvaar.
Die ministerie sê die uitbreiding van samewerking is nodig omdat georganiseerde misdaad ook met ontvoering, voertuigdiefstal, mensehandel, migrantesmokkelary en finansiële misdaad verband hou. Die ministers sal landverslae en vordering beoordeel. Hulle sal ’n program van aktiwiteite goedkeur wat deur die TPC-sekretariaat gemonitor sal word.