VRYSTAAT. – ’n 56-jarige amptenaar van die Grensbestuursowerheid (GBO) is in hegtenis geneem nadat 22 gestempelde paspoorte van Lesotho-burgers en R2 100 glo in sy besit gevind is. Die amptenaar, wat by die Maseru-grenspos werksaam is, word van korrupsie en immigrasieverwante oortredings verdink.
Dr. Michael Masiapato, kommissaris van die GBO, sê die inhegtenisneming het gevolg op ’n intelligensiegedrewe operasie waaraan hulle eenheid vir integriteitsbestuur, die departement van binnelandse sake se teenkorrupsie-eenheid, polisie se Ladybrand-speurtak, honde-eenheid, asook Vrystaatse misdaadintelligensie deelgeneem het. Die ondersoek is begin nadat inligting ontvang is dat paspoorte van Lesotho-burgers glo van Limpopo na Ladybrand vervoer is om onregmatig gestempel te word. Dit sou na bewering die betrokke paspoorthouers se visumgeldigheid en verblyftydperk in Suid-Afrika verleng sonder dat hulle persoonlik teenwoordig was, soos deur die wet vereis word.
Die verdagte sal na verwagting op aanklagte wat met korrupsie, die onregmatige besit van paspoorte en immigrasie-oortredings verband hou, in die Ladybrand-landdroshof verskyn. Die ondersoek duur voort en verdere inhegtenisnemings word nie uitgesluit nie.
Masiapato sê die GBO finaliseer tans meer as 60 arbeids- en dissiplinêre sake wat onder meer met bedrog, korrupsie en ander wangedrag verband hou. Volgens hom is 17 amptenare die afgelope drie maande afgedank, en verdere afdankings word verwag.
Druk hier om meer te lees.