Brekende Nuus
Nuus

Bronkhorstspruit: Tot 160 mense siek – Tshwane waarsku water is steeds onveilig

Foto: Ter illustrasie

GAUTENG. – Tussen 140 en 160 gevalle van mense wat diarree en ander maagverwante simptome ontwikkel het, is tussen 7 en 12 Oktober in Bronkhorstspruit en omliggende gebiede aangemeld. ’n Moontlike verband met die watertoevoer word deur Stad Tshwane ondersoek, maar die oorsaak van die siektes is nog nie bevestig nie. Die waarskuwing bly: al word water gekook, is dit steeds nie geskik vir menslike gebruik nie, totdat die stadsraad anders aandui.

Die meeste pasiënte is by die Bronkhorstspruit-hospitaal behandel, terwyl ander gevalle by die Mamelodi-, Steve Biko- akademiese en Wilgers-hospitale aangemeld is. Geen sterftes is tot dusver aangemeld nie. Raadslid Tshegofatso Mashabela, Tshwane se burgemeesterskomiteelid vir gesondheid, sê die stad, Tshwane-distriksgesondheidsdienste en die provinsiale en nasionale departemente van gesondheid ondersoek die gevalle. Bloed- en stoelgangtoetsuitslae van pasiënte word nog ingewag.

Die stad het intussen watertoetse by die Bronkhorstspruit-waterbehandelingsaanleg en in die verspreidingsnetwerk verskerp. In ’n afsonderlike opdatering op 15 Oktober het die stad gesê hy beplan om waterproduksie teen Donderdagaand te hervat, onderhewig aan die nodige gereedheidskontroles. Die bestaande waarskuwing bly egter van krag: water van die aanleg is nie geskik vir menslike gebruik nie, ook nie nadat dit gekook is nie, totdat die stad amptelik anders aankondig.

Inwoners word aangeraai om intussen alternatiewe veilige waterbronne te gebruik, waaronder water wat deur die stad se watertenkwaens voorsien word. Die stad sê die tenkwaens wat Streek 7 bedien, kry hul water by Cullinan, buite die betrokke toevoergebied, en word daagliks ontsmet. Inwoners met aanhoudende diarree, braking, koors, swakheid of tekens van ontwatering moet mediese hulp kry, veral wanneer kinders, ouer mense of ander kwesbare persone geraak word.