WES-KAAP. – Die Stad Kaapstad belê meer as R6,4 miljoen in die opgradering en herstel van hoëmasligte regoor die metro, met Nyanga en Crossroads wat die jongste gebiede is waar werk gedoen word. Die program fokus onder meer op hoërisikogebiede en roetes waar beter beligting sigbaarheid en veiligheid kan verbeter. Bestaande ligte word met meer energiedoeltreffende LED-tegnologie opgegradeer.
Ald. Xanthea Limberg, burgemeesterskomiteelid vir Energie, sê die nuwe LED-ligte het ’n langer lewensduur en verg minder onderhoud as ouer ligte. Ander gebiede wat by die program ingesluit word, is Khayelitsha, Bonteheuwel, Nomzamo, Lwandle, Delft, Uitsig en Brown’s Farm. Die Stad verskerp ook herstelwerk aan sy netwerk van meer as 245 000 straatligte. Volgens Limberg het spanne en kontrakteurs tussen Augustus en September meer as 10 000 diensversoeke oor straatligte hanteer.
Vandalisme, diefstal en onwettige kragverbindings plaas egter steeds druk op infrastruktuur. Inwoners kan verdagte aktiwiteite by die Stad se Openbare Noodkommunikasiesentrum aanmeld by 021 480 7700. Straatlig- en elektrisiteitsfoute kan by 0860 103 089 aangemeld word, per SMS by 31220 of via WhatsApp by 060 018 1505.