Brekende Nuus
Nuus

Polisiesersant dood ná vrou doodgeskiet is

Foto: Ter illustrasie

LIMPOPO. – ’n Polisiesersant (39) is Donderdagoggend dood aangetref, ure nadat hy na bewering sy vrou (35) doodgeskiet het. Die vrou is Woensdag 21 Oktober op die toneel dood verklaar nadat nooddienste ontbied is.

Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê die polisie het ’n moordsaak geopen en ’n soektog na die verdagte begin nadat hy na bewering in ’n wit Isuzu-bakkie van die toneel gevlug het. Inligting is Donderdag omstreeks 06:30 ontvang dat die voertuig langs die pad in die Botshabelo-gedeelte, binne die Tom Burke-polisiegebied, opgemerk is. Die polisie het die sersant se liggaam met ’n skietwond aan die kop onder ’n maroelaboom, sowat 100 m van die bakkie af, gevind. Sy staatsuitgereikte vuurwapen was langs hom.

’n Geregtelike doodsondersoek is geopen. Die motief is nog onbekend, maar huishoudelike geweld word nie uitgesluit nie. Lt.genl. Jan Scheepers, provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, het die voorval as ’n geval van geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord veroordeel. Die ondersoek duur voort.