WES-KAAP. – Vyf mense is Saterdagaand doodgeskiet en drie ander gewond toe gewapende mans ’n woning in Blodestraat, Steenberg, binnegegaan en op mense losgebrand het.
Vier mans en ’n vrou tussen 21 en 33 jaar oud, is op die toneel dood verklaar. Die drie beseerdes, ’n man en twee vroue, is na ’n mediese fasiliteit geneem vir behandeling.
Die polisie se teenbende-eenheid ondersoek vyf moorde en drie gevalle van poging tot moord. Die skietery het omstreeks 20:00 plaasgevind terwyl die slagoffers by die woning besig was om te drink. Brig.genl. Novela Potelwa, polisiewoordvoerder, sê voorlopige inligting dui daarop dat die verdagtes die woning binnegegaan en verskeie skote afgevuur het. Die voorval hou vermoedelik verband met bendegeweld.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie en speurders van die teenbende-eenheid soek na die verantwoordelikes. Die polisie bly op ’n hoë gereedheidsgrondslag in die gebied.