Brekende Nuus
Nuus

4 vas ná beweerde plan om OTM’e in Limpopo op te blaas

Foto's: SAPD

GAUTENG. – Vier mans is in hegtenis geneem nadat ’n intelligensiegedrewe operasie ’n vermeende plan om OTM’e by Zebediela in Limpopo op te blaas, gefnuik het. Die verdagtes, tussen 28 en 50 jaar oud, is Saterdagoggend vroeg op die R568 in die Vaalbank-omgewing onderskep nadat hulle glo probeer vlug het toe hulle die operasionele span gewaar het.

’n AK-47-aanvalsgeweer, twee magasyne, 36 rondtes lewendige ammunisie en vier selfone is gekonfiskeer. Die silwer Toyota Starlet waarin hulle gereis het, is vir verdere ondersoek in beslag geneem. Kol. Dimakatso Nevhuhulwi, polisiewoordvoerder, het gesê die operasie is van stapel gestuur nadat inligting ontvang is dat verdagtes na bewering ongelisensieerde vuurwapens en plofstof besit en rooftogte beplan het, met OTM’e by Zebediela as teikens. Die multidissiplinêre span het lede van verskeie polisie-eenhede en private veiligheidsmaatskappye ingesluit.

Die vier verdagtes sal na verwagting binnekort in die hof verskyn. Hul moontlike betrokkenheid by ander ernstige en geweldsmisdade, waaronder OTM-bomaanvalle, kontant-in-transito-rooftogte en sakerooftogte, word ook ondersoek.