VSA. – Inwoners en lede van wetstoepassingsdienste het Maandag langs paaie en oorbrûe in Texas byeengekom om adjunkbalju Adam Al-Sherifi te eer wat tydens die uitvoering van sy pligte doodgeskiet is. Die 31-jarige laat sy vrou en drie jong kinders, onder wie ’n pasgebore baba, agter. Sy begrafnisdiens vind vandag in Canton plaas.
Volgens die Van Zandt-distriksbalju se kantoor het Al-Sherifi op 20 Oktober saam met ander beamptes gehelp om strafregtelike lasbriewe by ’n woning suid van Canton uit te voer toe ’n verdagte vanuit die huis op hulle begin skiet het. Balju Kevin Bridger het volgens plaaslike mediaberigte gesê die verdagte het meer as 800 skote geskiet. Al-Sherifi is doodgeskiet en ’n Canton-polisiebeampte is in die arm gewond. Die verdagte, die 42-jarige Mi Van Nguyen, is later dood in die woning gevind. Dit is nie duidelik of hy deur polisiekoeëls getref is of selfdood gepleeg het nie.
Al-Sherifi se vrou, Kyleigh, het hom op sosiale media as dapper, sterk en goedhartig beskryf en gesê hy het hard gelag en nog harder liefgehad. Die verlies laat die gesin sonder ’n man en pa, terwyl die gemeenskap hulde bring aan ’n beampte wat in die uitvoering van sy pligte gesterf het.
Die Van Zandt-distriksbalju se kantoor het die publiek en mede-nooddienswerkers bedank vir hul ondersteuning en versoek dat die familie in hul gedagtes gehou word.
Bronne: CBS Texas, KLTV, Fox 4 Dallas-Fort Worth, Associated Press