GESONDHEID. – Ouers wie se kinders allergies is vir honde, hoef nie noodwendig die idee van ’n familiehond heeltemal prys te gee nie. Die besluit hang egter af van hoe ernstig die kind se allergie is en hoe dit manifesteer. Kinders met ernstige of moeilik beheerbare asma behoort liefs nie aan troeteldiere blootgestel te word nie, terwyl dit in sekere gevalle moontlik kan wees om ’n hond aan te hou indien die allergiese toestand lig is en maklik beheer word.
Dr. Annemarie Gouws, ’n allergiespesialis by Mediclinic Hermanus, verduidelik dat ’n allergie vir honde nie deur die pels self veroorsaak word nie, maar deur proteïene in die dier se velselle, speeksel of urine. Hierdie proteïene kleef aan die droë, dooie velselle wat op die hond se pels versamel. Sommige honderasse verloor minder pels en kan daarom kleiner hoeveelhede allergene in die lug vrystel. Schnauzers, sekere terriërs, Bichon Frisé, Maltese en sommige poedelrasse word dikwels in dié verband genoem. Geen honderas is egter bewys as heeltemal hipoallergeen nie.
Ouers wat dit oorweeg om ’n hond aan te skaf, behoort eers mediese advies in te win en die kind se allergie in ag te neem. Indien ’n hond wel deel van die gesin word, kan blootstelling aan allergene moontlik beperk word deur die dier uit slaapkamers en ander ruimtes waar die kind baie tyd deurbring, te hou. Goeie ventilasie is belangrik en die huis moet gereeld gestofsuig en skoongemaak word. Matte moet verkieslik vermy word. Die hond moet een tot twee keer per week gebad word om allergene op sy pels te verwyder.
Druk hier om meer te lees.