Brekende Nuus
Nuus

Malaria: Gevalle in Limpopo ondersoek

Foto: Ter illustrasie

LIMPOPO. – Die Limpopo-departement van gesondheid het malaria-toesig en beheermaatreëls in die Sekhukhune-distrik verskerp nadat sewe gevalle gedurende Oktober in die Marble Hall- en Moganyaka-gebiede bevestig is.

Neil Shikwambana, woordvoerder van Limpopo se departement van gesondheid, sê aanvanklike ondersoeke het bevind dat nie een van die sewe pasiënte buite Limpopo gereis het nie. Dit wek kommer oor moontlike plaaslike oordrag, aangesien Sekhukhune buite die provinsie se gebiede val wat tradisioneel met malaria-oordrag verbind word. Al sewe pasiënte het behandeling ontvang en is besig om te herstel. 

Gesondheidspanne het kontakpersone en konstruksiewerkers met ’n hoër risiko vir malaria getoets, maar almal se uitslae was negatief. Binnenshuise bespuiting is ook by 16 wonings in die betrokke gebied uitgevoer. Aanvanklike ondersoeke van nabygeleë watermassas het geen muskietlarwes of volwasse muskiete opgelewer nie. Verdere omgewings- en muskietondersoeke duur egter voort.

’n Multidissiplinêre wetenskaplike taakspan is ontplooi om die omgewing verder te ondersoek en geteikende bespuiting in hoërisikogebiede uit te brei. Dit sluit mynbouverblyfplekke, plaaswerkerverblyf en omliggende nedersettings in. Gesondheidsfasiliteite in die gebied, waaronder Matlala-hospitaal, Philadelphia-hospitaal en Marulaneng-kliniek, handhaaf verhoogde waaksaamheid om moontlike gevalle vroeg te identifiseer en te behandel.

Die departement waarsku dat malaria voorkombaar en behandelbaar is, maar dat vertraagde diagnose tot ernstige siekte en die dood kan lei. Inwoners word aangeraai om muskietafweermiddel te gebruik, veral saans en snags, langmouklere en langbroeke buite te dra en blootstelling aan muskietbyte tydens nagtelike aktiwiteite te beperk. Persone wat koors, kouekoors, hoofpyn of lyfseer ontwikkel, moet vroeg mediese hulp kry en gesondheidswerkers inlig in watter gebied hulle woon of werk.

Die departement sê die situasie word aktief ondersoek en dat verdere opdaterings verskaf sal word wanneer meer inligting beskikbaar is.