Brekende Nuus
Nuus

2 kry lang tronkstraf vir moord op Ermelo-boer

Foto's: The ugly truth - killing fields of South Africa Facebook-blad en SAPD

MPUMALANGA. – Mbongeni Walter Nkosi (36) en Mxolisi Sibusiso Mnisi (38) is effektief tot 25 en 23 jaar gevangenisstraf gevonnis vir die moord op Jannie Weideman tydens ’n plaasaanval op die Roodepoort-plaas buite Ermelo op 22 Desember 2023. Die Mpumalanga-hooggeregshof, wat in Delmas sit, het die vonnisse op 22 Oktober opgelê, nadat die twee skuldig gepleit het op die aanklag van moord en roof met verswarende omstandighede.

Lt.kol. Jabu Ndubane, polisiewoordvoerder, sê veiligheidsbeamptes het die polisie ná die plaasaanval ingelig dat hulle tydens patrollering ’n verdagte van die huis sien weghardloop het. Die polisie het Weideman in die woning met verskeie skiet- en steekwonde gevind. Hy is op die toneel dood verklaar. ’n Rooi Toyota Hilux, vuurwapens, ammunisie en juweliersware is gesteel. Die bakkie is later verlate in Breyten gevind.

Brig. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder, het aanvanklik gesê vyf verdagtes is in Januarie 2024 in hegtenis geneem. Die polisie het ook drie vuurwapens wat na bewering tydens die aanval gesteel is, teruggevind, asook ’n vuurwapen wat in Piet Retief as gesteel aangemeld is.

Ndubane bevestig Nkosi is 20 jaar gevangenisstraf vir moord en 10 jaar vir roof met verswarende omstandighede opgelê. Vyf jaar van die roofvonnis sal samelopend met die moordvonnis uitgedien word, wat sy effektiewe vonnis op 25 jaar te staan bring. Mnisi is 20 jaar gevangenisstraf vir moord opgelê, waarvan twee jaar vir vyf jaar opgeskort is op voorwaarde dat hy gedurende dié tydperk nie aan ’n geweldsmisdaad skuldig bevind word nie. Hy is ook agt jaar vir roof met verswarende omstandighede gevonnis, waarvan drie jaar samelopend met die moordvonnis uitgedien sal word. Sy effektiewe vonnis is 23 jaar gevangenisstraf.

Die saak teen Bongani Khoza is tot 20 November 2028 uitgestel vir verhoor in die Mpumalanga-hooggeregshof, wat in Breyten sal sit. ’n Vierde man het ingevolge artikel 204 van die Strafproseswet vrywaring verkry; sy naam is nie bekend gemaak nie.