WES-KAAP. – AO Dewald Vorster (43), ‘n polisiebeampte van George se openbare orde-polisiëringseenheid (POPS) en ‘n polisieduiker, sal binnekort deur sy familie, vriende en kollegas gegroet word. Sy troosdiens vind vandag (Vrydag 30 Oktober) om 11:00 by die NG Moedergemeente in George plaas.
Sers. Wesley Twigg, polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, het bevestig dat ‘n geregtelike doodsondersoek geregistreer is ná die dood van die polisiebeampte in Kaapstad op Dinsdag 27 Oktober. Die omstandighede van sy dood word ondersoek en ‘n nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van sy dood te bepaal.
Vorster was na bewering besig met ‘n polisie-opleidingsoefening toe hy gesterf het. Sy vrou, Mariette Vorster, het die skakel vir die regstreekse uitsending van die troosdiens gedeel. Die diens kan om 11:00 hier gevolg word: REGSTREEKSE UITSENDING – DEWALD VORSTER SE TROOSDIENS