Brekende Nuus
Sokker

500-tal vol hoogtepunte vir Bafana Bafana

Bafana Bafana het onlangs hul 500ste internasionale wedstryd sedert hertoelating in 1992 gespeel. André van Eck kyk terug na die span se grootste hoogtepunte.

SAFA-logo: Bafana Bafana se 500 wedstryde
Foto: Verskaf

Bafana Bafana, die Suid-Afrikaanse nasionale sokkerspan, het onlangs hul 500ste internasionale wedstryd sedert hertoelating in 1992 gespeel, en daar was reeds talle hoogtepunte.

Ek het baie van hierdie wedstryde op televisie gekyk en self ook die internasionale wedstryd teen Noorweë op 8 Januarie 2013 in die Kaapstad-stadion bygewoon, toe Bafana Bafana met 0-1 onder die spit gedelf het.

Bafana Bafana se 500 wedstryde: trofeë en titels

Onder Clive Barker as afrigter het Bafana Bafana in 1996 die Afrika-nasiebeker op tuisbodem gewen. Daarna het die span in 1998 as naaswenner en in 2000 en 2023 in die derde plek in dié kompetisie geëindig.

Bafana Bafana het ook die Afro-Asiatiese Nasiebeker van 1997, wat eers in 1999 gespeel is, gewen deur Saoedi-Arabië oor twee wedstryde met 1-0 op totaal te klop. Die span het boonop die COSAFA-beker, die toernooi vir nasionale spanne uit Suider-Afrika, reeds vyf keer gewen en een keer die halfeindstryd van die FIFA Konfederasiebeker gehaal.

Oorwinnings teen sterk opposisie

Suid-Afrika het sedert 1992 ook talle kere teen veel sterker opposisie sukses behaal en al tien keer oorwinnings oor Europese spanne behaal. Dit sluit oorwinnings oor Slowenië (1-0) en Frankryk (2-1) tydens die Wêreldbekertoernooie van onderskeidelik 2002 en 2010 in. Teen Frankryk is die span afgerig deur die Brasiliaan Carlos Alberto Parreira, wat in 1994 as afrigter die Wêreldbeker met sy geboorteland Brasilië gewen het.

Daar was verder twee oorwinnings oor Suid-Amerikaanse opposisie, een oor Paraguay (3-0) in 2008 en een oor Colombië (2-1) in 2010, asook ’n gelykopuitslag teen Argentinië in 1995.

Een van Bafana Bafana se grootste hoogtepunte was die 1-0-oorwinning oor Spanje in ’n internasionale wedstryd op 19 November 2013 in Johannesburg. Spanje was toe die wêreld- en Europese kampioen en het die eerste plek op die wêreldranglys beklee, terwyl Bafana Bafana 61ste op FIFA se ranglys was. Dié oorwinning is onder Gordon Igesund as afrigter behaal. Bafana Bafana se hoogste posisie op FIFA se ranglys tot dusver was 16de in Augustus 1996.

Vier keer by die Wêreldbeker

Bafana Bafana het al vier keer vir die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi gekwalifiseer, waarvan een keer as gasheer in 2010. Die span het ook al twee keer in die openingswedstryd gespeel, albei kere teen Mexiko, in 2010 en tydens die Wêreldbekertoernooi vroeër vanjaar. Vanjaar het Bafana Bafana in Noord-Amerika ook vir die eerste keer die uitklopfase gehaal, waar die span in die rondte van 32 uitgeskakel is.

Met soveel hoogtepunte in Bafana Bafana se eerste 500 wedstryde sedert 1992 beloof die volgende 500 om nog vele hoogtepunte op te lewer, en kan Bafana tot ’n nog groter krag in wêreldsokker groei.

André van Eck, Worcester