Brekende Nuus
Nuus

Soektog duur voort na Estie Rykheer, langer as maand gelede verdwyn

Foto: Missing Person South Africa

VRYSTAAT. – Die Parkweg-polisie in Bloemfontein doen ‘n beroep op die publiek om te help met die opsporing van Estie Rykheer (48), wat sedert 25 September vermis word. Volgens die polisie het sy dié dag haar woning in haar kêrel se voertuig, ‘n Volkswagen Polo Playa 1.6, verlaat en is sy nie weer sedertdien gesien nie.

Volgens inligting wat deur Missing Person South Africa gedeel is, is Estie omstreeks 12:30 laas dié dag by die Louchloagan-woonstelle in die West End-gebied van Bloemfontein gesien. Sy het glo aan haar geliefdes gesê dat sy om die draai gaan wasgoed was. Haar kêrel, Neal Shand, het later hulp met die soektog gevra. Die familie sê Estie het op die dag van haar verdwyning geld uit haar bankrekening onttrek. Haar selfoon is sedertdien afgeskakel of werk nie meer nie. Sy het glo ook nie haar identiteitsdokument by haar nie.

Volgens inligting wat Neal sê die polisie aan hom verskaf het, is die voertuig op 29 September by ‘n Shell-vulstasie in Drie Susters opgemerk. Die Volkswagen Polo se registrasienommer is CL 11 WV ZN, dit het ‘n swart voordeur aan die passasierskant. ‘n Dun noodwiel was links agter op die motor aangebring. Die familie sê die voertuig is sonder die eienaar se toestemming geneem. Dit is nie bekend of Estie self die voertuig bestuur het of ‘n passasier daarin was toe dit in Drie Susters opgemerk is nie.

Enigiemand met inligting oor Estie word gevra om konst. Shikishi by 051 448 1701 te bel. Die familie se kontakbesonderhede is: Corné (suster): 083 456 5683, Neal Shand (kêrel): 060 345 6639. Die publiek kan ook vir Rian Carstensen, ‘n senior administratiewe klerk van die polisie, by 051 503 2852 of 084 604 0089 bel.