Brekende Nuus
Misdaad

Twee vas oor beweerde smokkel van gehuurde bakkies

Twee mans is by die Kosibaai-grenspos in hegtenis geneem nadat grensbeamptes twee gehuurde Ford Ranger-bakkies onderskep het wat vermoedelik na Mosambiek gesmokkel sou word.

twee vas smokkel gehuurde bakkies
Foto: SANews

KWAZULU-NATAL. – Twee mans is Donderdag 29 Oktober in hegtenis geneem nadat grensbeamptes twee Ford Ranger-bakkies onderskep het wat vermoedelik deur bedrog gehuur is en na Mosambiek gesmokkel sou word.

Volgens die Grensbestuursowerheid (GBO) het beamptes omstreeks 12:30 ’n wit 2025 Ford Ranger-dubbelkajuitbakkie by die Kosibaai-grenspos voorgekeer. Die bestuurder, ’n 75-jarige Suid-Afrikaanse man, was op pad na Mosambiek.

Beamptes het vasgestel dat die voertuig aan ’n motorverhuringsmaatskappy behoort. Die maatskappy het bevestig dat hy nie toestemming gegee het dat die bakkie oor die grens geneem word nie.

Volgens die maatskappy se opsporingstelsel was die voertuig steeds in Johannesburg. Toe die maatskappy die voertuig se ligging probeer bevestig, is ontdek dat die opsporingstoestel verwyder is.

Grensbeamptes het tydens die operasie nog ’n Ford Ranger geïdentifiseer wat volgens die verhuringsmaatskappy ook op bedrieglike wyse gehuur is.

Die BMA het met Mosambiekse owerhede saamgewerk om die tweede voertuig en sy bestuurder te onderskep. Die bestuurder het tydens ondervraging beweer dat hy die bakkie by ’n vriend in Pretoria geleen het.

Volgens die BMA het die ondersoek ook aan die lig gebring dat dokumente wat gebruik is om die voertuie oor die grens te neem, vermoedelik vervals is.

Albei mans is in hegtenis geneem op aanklagte wat verband hou met die besit van vermoedelik gesteelde eiendom, vervalsing, bedrog en die gebruik van vervalste dokumente.

Hulle sou na verwagting Vrydag 30 Oktober vir die eerste keer in die hof verskyn.

Dr. Michael Masiapato, kommissaris van die GBO, het die belangrikheid van samewerking tussen grensbeamptes, voertuigverhuringsmaatskappye en owerhede in buurlande beklemtoon om voertuigsmokkelary te bekamp.

Bronne: Grensbestuursowerheid; SAnews.