Brekende Nuus
Nuus

Vrou van Groot-Brakrivier gesoek ná moontlike ontvoering

Foto's: Missing Person South Africa

WES-KAAP. – ‘n Familie doen ‘n dringende beroep op die publiek om te help soek na Denise Ellie Lewis-Swart, wat na bewering Donderdagmiddag (29 Oktober) deur vier mans by die De Dekke-winkelsentrum in Groot-Brakrivier ontvoer is. Denise is glo omstreeks middagetetyd na die winkelsentrum om kruideniersware en wegneemkoffie te koop.

AO Christopher Spies, polisiewoordvoerder, het aan Nuusflits bevestig dat die omstandighede rondom die verdwyning van ‘n vrou in Groot-Brakrivier ondersoek word. ‘n Ontvoeringsdossier is daarna vir verdere ondersoek geopen. Enigiemand met inligting kan AO Paul Scheepers van die Groot-Brakrivier-speurders by 044 620 8326 bel.

Volgens Missing Person South Africa het haar familie inligting verskaf dat sy met geweld in ‘n wit GAC M8 Master-voertuig gedwing is, waarna daar met haar weggery is. Dit is onbekend waar sy tans is. Denise se man, Ulrich, sê kringtelevisiebeeldmateriaal wys dat vier mans na bewering reeds op Woensdag (28 Oktober) en weer Donderdag in die omgewing van die winkelsentrum was. Denise het tydens die voorval ‘n wit langbroek, wit hemp, wit-en-roomkleurige baadjie en groen Adidas-skoene aangehad. Sy dra ‘n bril met deursigtige rame en het ‘n klein ovaalvormige neusring.

Die familie vra inwoners van Groot-Brakrivier, George en Mosselbaai om op die uitkyk te wees vir die wit GAC M8 Master. Enigiemand met inligting, kringtelevisiebeeldmateriaal of paneelbordkamera-opnames van die omgewing op 28 en 29 Oktober word versoek om dit met die polisie te deel.

Bronne: SAPD, Missing Person South Africa