Brekende Nuus
Nuus

Voormalige Idac-hoof en misdaadintelligensie- adjunkhoof hiervan aangekla

GAUTENG. – Andrea Johnson (56), voormalige hoof van die NVG se ondersoekdirektoraat teen korrupsie (Idac) en genl.maj. Feroz Khan (56), voormalige adjunkhoof van misdaadintelligensie by die polisie, het vandag in die Pretoriase landdroshof verskyn. Hulle staan albei tereg op aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer (Johnson as medepligtige ná die voorval) en die verydeling van die gereg. Johnson word ook deur ‘n verdere aanklag in die gesig gestaar weens beweerde oortreding van die Wet op die Nasionale Vervolgingsgesag, Wet 23 van 1998.

Kaizer Kganyago, NVG- nasionale woordvoerder, sê die aanklagte hou verband met ‘n beweerde voorval op 26 Junie 2018, toe Khan na bewering ‘n argument met sy junior kollega, brig. Phethle, gehad het. Die argument het na bewering in ‘n fisieke konfrontasie ontaard waartydens Khan haar met ‘n pen gesteek en met sy hande en ‘n lêer geslaan het. Sy het beserings aan haar gesig en bors opgedoen. Phethle het die voorval by die polisie aangemeld, maar Khan het na bewering reeds op 5 Julie 2018 ‘n waarskuwingsverklaring aan die ondersoekbeampte voorgelê voordat die dossier vir leiding en ‘n besluit aan die NVG gestuur is. Die daaropvolgende ondersoek het volgens die NVG aan die lig gebring dat Johnson na bewering, sonder die toestemming van die nasionale direkteur van openbare vervolgings, inligting aan Khan bekend gemaak het en dat hulle saam opgetree het om vervolging teen hom te belemmer.

Die twee is vandag (Vrydag, 30 Oktober) ná ‘n ondersoek deur die kommissie se aanbevelingspan (CRTT) in hegtenis geneem. Die staat het nie hul borgtog teengestaan nie, aangesien hulle volgens die NVG nie ‘n vlugrisiko is nie en hul woonadresse bevestig is. Albei is op borgtog van R10 000 elk vrygelaat. Johnson moet haar paspoort teen 4 November aan die ondersoekbeampte oorhandig. Die saak is tot 2 Februarie 2027 vir verdere ondersoek uitgestel.