Brekende Nuus
Nuus

Omgewingskampvegter vra bootgebruikers op Hartbeespoortdam moet reddingsbaadjies dra

Foto: Missing Person South Africa en Environment Campaigner

NOORDWES. – ’n Omgewingskampvegter het bootgebruikers op die Hartbeespoortdam gemaan om altyd reddingsbaadjies te dra en gebiede met digte waterhiasinte te vermy. Hy waarsku dat bote in die plantegroei kan vasval en dat dit reddingspanne ure kan neem om hulle te bereik. Hy het besoekers ook gevra om die nodige veiligheidstoerusting aan boord te hê en onnodige risiko’s op die water te vermy. Hy het foto’s van die dam met die hiasinte gedeel.

Environment Campaigner sê die plantegroei belemmer bote se beweging en dit raak ook ondernemings en toerisme rondom die dam. Hy sê werk is reeds aan die gang om die waterhiasinte te verwyder en vra dat die soektog na Jan Obakeng Mokonyane terselfdertyd voortgaan. Volgens die kampvegter gebruik soekspanne daagliks hommeltuie om na Mokonyane te soek. Hy wil ook die familie se toestemming vra vir ’n moontlike BackaBuddy-veldtog om die organisasies wat met die soektog help, te ondersteun.

Nuusflits het op 5 November berig sers. Kelebogile Morake bevestig dat die Hartbeespoortdam-polisie Mokonyane se verdwyning ondersoek. Hy was die skipper van ’n boot wat op 25 Oktober na bewering op die dam omgeslaan het. Al agt passasiers is gered.