Deur André van Eck, Worcester
Die onlangse swaargewiggeveg tussen Daniel Dubois en Fabio Wardley om die WBO-wêreldtitel het my laat terugdink aan Thunder in Africa – een van die grootste swaargewigboksgevegte wat nog in Suid-Afrika gehou is.
Dié geskiedkundige geveg tussen die verdedigende wêreldkampioen Lennox Lewis van Engeland en Hasim Rahman van die VSA het op 22 April 2001 by Carnival City in Brakpan plaasgevind.
Rahman, wat as ’n groot buitestander met kansverhoudings van 20 teen 1 beskou is, het die bokswêreld geskok toe hy Lewis in die vyfde ronde uitgeslaan en sy wêreldtitels afgeneem het.
Herinneringe aan Thunder in Africa
Tydens ’n vakansie en kuier by my neef in Gauteng in 2022 het ek Carnival City besoek en by ’n restaurant geëet. Daarna het ek tot by die ingang van die Big Top Arena gestap, waar Thunder in Africa plaasgevind het.
Ander groot gevegte wat by Carnival City aangebied is, sluit in dié waarin Corrie Sanders op 19 Februarie 2000 sy WBU-wêreldswaargewigtitel teen Al Cole van die VSA suksesvol verdedig het.
Jacob “Baby Jake” Matlala het ook in sy laaste professionele geveg by Carnival City teen Juan Herrera van Colombië geboks. Nadat Matlala sy WBU-juniorvlieggewigtitel behou het, het hy sy kampioenskapsgordel aan oudpres. Nelson Mandela geskenk, wat langs die kryt gesit het.
Ná sy nederlaag teen Rahman het Lewis die kontraktuele klousule vir ’n herontmoeting geaktiveer. Sewe maande later, op 17 November 2001, het hy die gordels in die VSA teruggewen deur Rahman in die vierde ronde uit te slaan. Dit is vandag presies 25 jaar gelede.
Dertig jaar sedert Tyson teen Holyfield
November is ook die 30ste herdenking van die eerste geveg tussen Mike Tyson en Evander Holyfield, wat op 9 November 1996 plaasgevind het.
Holyfield het Tyson in die 11de ronde met ’n tegniese uitklophou verslaan en die WBA-wêreldswaargewigtitel by hom afgeneem. Dit was die derde keer dat Holyfield ’n wêreldswaargewigtitel verower het.
Twee Suid-Afrikaners was op die voorprogram in wêreldtitelgevegte betrokke. Morgan Ndumo het teen Ricardo López van Mexiko om die WBC-wêreldstrooigewigtitel geboks, terwyl Francois Botha teen Michael Moorer van die VSA om die IBF-wêreldswaargewigtitel meegeding het. Albei Suid-Afrikaners het hul gevegte verloor.
Veertig jaar sedert Tyson geskiedenis gemaak het
Later dié maand is dit ook 40 jaar sedert Tyson die jongste wêreldswaargewigkampioen in boksgeskiedenis geword het.
Hy was net 20 jaar en 145 dae oud toe hy die WBC-kampioen, Trevor Berbick, op 22 November 1986 in Las Vegas met ’n tegniese uitklophou in die tweede ronde verslaan het.
Suid-Afrika het oor die jare verskeie groot boksgevegte aangebied, maar Thunder in Africa bly vir my een van die onvergeetlikstes. Net die tyd sal leer wanneer wêreldswaargewigtitels weer hier beslis word – maar ek dink dit is beslis tyd vir ’n volgende Thunder in Africa.