Die motorvervaardiger Jetour beplan om sy teenwoordigheid in Afrika uit te brei met onder meer sewe monteeraanlegte vir voertuie wat vir volgende jaar oor die vasteland heen beplan word.
Die maatskappy wil ook meer onderdele plaaslik verkry, plaaslike verskaffers ontwikkel en die moontlikheid ondersoek om navorsings- en ontwikkelingsvermoë in Afrika te vestig.
Ke Chuandeng, president van Jetour International, het die planne op 6 November by die maatskappy se eerste Africa Forward-beraad in Sandton, Johannesburg, uiteengesit.
Volgens Chuandeng wil Jetour ontwikkel van ’n verskaffer van voertuie tot ’n langtermyn-nywerheidsvennoot in Afrika. Dit sluit beleggings in plaaslike vaardighede, vervaardiging, tegnologie en gemeenskappe in.
Jetour sê hy het sedert sy toetrede tot die Afrika-mark in 2019 na 42 markte op die vasteland uitgebrei. Die handelsmerk het volgens die maatskappy 164 verkoops- en dienspunte en meer as 160 000 voertuigeienaars in Afrika.
Meer as 80 000 Jetour-voertuie is verlede jaar in Afrika verkoop, lui die maatskappy se syfers. In Suid-Afrika het die handelsmerk binne twee jaar die toptien bereik.
Plaaslike opleiding en vervaardiging
Jetour sê hy het reeds meer as 2 500 direkte werksgeleenthede in Afrika geskep en meer as 9 000 plaaslike verkoops- en dienspersoneellede opgelei. Volgens die maatskappy word 81% van sy Afrika-werkmag plaaslik gewerf.
Die uitbreiding sal ook daarop fokus om verkope, die beskikbaarheid van onderdele en naverkoopdiens te versterk. Plaaslike spanne en tegnici sal verdere opleiding ontvang.
Chuandeng sê Jetour beskou Afrika nie bloot as ’n uitvoerbestemming nie, maar as ’n langtermynvennoot in die ontwikkeling van ’n sterker motorbedryf met groter plaaslike betrokkenheid.
Die maatskappy se doelwit is volgens hom om werk, vaardighede en nywerheidsvermoë in Afrika-markte te help skep.
Hibriede voertuie
Jetour beplan om voort te gaan om voertuie met binnebrandenjins aan te bied, terwyl hy sy reeks hibriede voertuie uitbrei.
Volgens Chuandeng moet voertuie ook ontwikkel word met Afrika se uiteenlopende bestuurstoestande in gedagte. Dit sluit uiterste temperature, stede op hoë hoogtes, grondpaaie en lang afstande in.
Gemeenskappe en bewaring
Luo Yuanren, besturende direkteur van Jetour Suid-Afrika, het by die beraad oor die maatskappy se onlangse Africa Expedition gepraat.
Volgens Jetour het die ekspedisie 12 inisiatiewe in 12 lande ingesluit en meer as 700 mense en diere bereik.
Die projekte het onder meer onderwys- en jeugontwikkeling in Ghana, Suid-Afrika, Zambië en Zimbabwe ondersteun. Die maatskappy sê hy het ook noodsaaklike voorrade aan gemeenskappe in vyf Afrika-lande verskaf, sonkraginisiatiewe in Suid-Afrika ondersteun en gehelp om werksgeleenthede vir mense met gestremdhede in Tanzanië te skep.
Jetour sê hy het verder tot wild- en natuurbewaring in Suid-Afrika bygedra.
Ander sprekers by die beraad was dr. Mncane Mthunzi, uitvoerende hoof van naamsa/The Automotive Business Council, die ekonoom en sakestrateeg dr. Martyn Davies en dr. Laurie Marker, stigter en uitvoerende direkteur van die Cheetah Conservation Fund.
Meer inligting is by www.jetour.co.za beskikbaar.