KWAZULU-NATAL. – Agt verdagtes tussen 18 en 27 jaar oud sal na verwagting vandag (Vrydag) op aanklagte van bedrog in die Pinetown-landdroshof verskyn. Hulle het glo pensioenarisse met ’n maandelikse kruideniersbewys van R500 gelok om versekeringspolisse uit te neem. Die Mariannhill-polisie het hulle Woensdag op verskeie plekke in die polisiedistrik in hegtenis geneem.
Lt.kol. Paul Magwaza, polisiewoordvoerder, sê die verdagtes het na bewering senior burgers en pensioenarisse genader en begrafnis- en lewensdekking aan hulle aangebied. Hulle het glo voorgegee dat ’n bekende versekeraar die polisse onderskryf en ’n kruideniersbewys van R500 per maand belowe aan enigiemand wat een van die polisse uitneem. Die polisie het ’n taakspan saamgestel nadat verskeie klagtes oor dieselfde skema ontvang is. Al agt verdagtes is deur die span opgespoor.
Enigiemand wat vermoed dat hulle deur die skema benadeel is, word gevra om dit by hul naaste polisiestasie aan te meld.