WES-KAAP. – Max Immelman, ‘n gr. 10-leerling van Hoërskool Parel Vallei, se afsterwe ná ’n lang stryd teen kanker, het skoolgemeenskappe in rou.
Die skool het in ’n huldeblyk gesê Max se tyd by die skool was kort, maar dat sy vreugdevolle geaardheid en veggees ’n blywende indruk op onderwysers en medeleerlinge gemaak het. Die skool het sy meegevoel met sy ouers, Barbara-Marie en Charl Immelman, sy suster Wanda, familie en vriende, uitgespreek.
Volgens Paul Roos Gimnasium was Max voorheen ’n leerling van dié skool waar hy graad 8 en 9 voltooi het, voordat die gesin verhuis het om nader aan die huis te wees tydens sy behandeling. Die skool het hom beskryf as ’n jong man wat deurentyd moed, waardigheid en karakter getoon het, selfs onder moeilike omstandighede.
Laerskool Beaumont, waar Max sy laerskooljare deurgebring het, onthou onder andere sy besondere talent vir openbare redevoering en sy uitbeelding van die Mad Hatter in ‘n skoolopvoering. Hy het met sy geesdrif en moed almal om hom geïnspireer.
Al drie skole het hul innige simpatie betuig met Max se familie, vriende en almal wat hom geken het. Sy afsterwe het nie net die gemeenskappe van Beaumont, Paul Roos en Parel Vallei diep geraak nie, maar ook talle ander mense wat deur sy moedige stryd geïnspireer is.





