GAUTENG. – Die polisie het op Jeugdag beslag gelê op agt AK-47-aanvalsgewere en vier mans in hegtenis geneem. Die sukses is behaal in ’n voortgesette poging om die verspreiding van onwettige vuurwapens hok te slaan.
Volgens polisiewoordvoerder, kol. Dimakatso Nevhuhulwi, het Magaliesburg-beamptes vroegoggend op Jeugdag twee verdagte voertuie op die R24 opgemerk. Beamptes het ’n Volvo-vragmotor met ‘n Namibiese registrasienommer opgemerk wat stilgehou het met ’n Mazda-sedan agter dit.
Terwyl hulle die situasie dopgehou het, het twee mans glo ’n sak uit die vragmotor gehaal en dit in die kattebak van die Mazda gelaai. Die polisie het onmiddellik ingegryp en die voertuie deursoek. In die sak is agt AK-47-gewere en sewe leë magasyne gevind. Die vier mans is op die toneel in hegtenis geneem en van die onwettige besit van vuurwapens.aangekla.
Die vuurwapens sal vir ballistiese ontleding gestuur word om te bepaal of dit met enige misdade verbind kan word, terwyl die verdagtes ook verder ondersoek sal word.





