Brekende Nuus
Nuus

ARFID: Wanneer ’n kind se beperkte eetgewoontes ’n eetversteuring kan wees

Foto: Ter illustrasie

Wanneer ’n kind net ’n paar kossoorte wil eet, sekere teksture of reuke nie kan verdra nie of bang is om te sluk, kan dit meer as gewone kieskeurige eetgewoontes wees. ARFID – vermydende/beperkende voedselinnameversteuring (avoidant/restrictive food intake disorder) – kan tot voedingstekorte, probleme met gewigstoename en groeiprobleme lei. 

Dr. Anita Parbhoo, ’n pediater wat by Mediclinic Louis Leipoldt in Bellville praktiseer, het in ’n artikel op Mediclinic se Infohub-webwerf verduidelik dat ARFID van ander eetversteurings verskil omdat dit nie noodwendig met ’n vrees vir gewigstoename of ’n negatiewe liggaamsbeeld verband hou nie. Mense met ARFID kan kos vermy weens sensitiwiteit vir smaak, reuk of tekstuur, min belangstelling in eet of ’n vrees vir verstikking, braking of pyn nadat hulle geëet het. Die toestand kan kinders én volwassenes raak en hul voedingsgesondheid, groei en sosiale lewe beïnvloed. Behandeling word volgens die individu se behoeftes bepaal en kan ’n dokter, dieetkundige en sielkundige betrek. Ouers behoort professionele hulp te kry wanneer ’n kind se dieet uiters beperk is, hy of sy gewig verloor, nie soos verwag groei nie of tekens van voedingstekorte toon. Om ’n kind te dwing om kos te eet, kan spanning rondom maaltye vererger.

Die versteuring kom blykbaar meer gereeld voor by mense met outismespektrumversteuring, ADHD en obsessief-kompulsiewe versteuring (OKV). Angsversteurings kan ook saam met ARFID voorkom. Dit beteken egter nie dat almal met hierdie toestande ARFID sal ontwikkel nie.

ARFID is nie die enigste eetversteuring nie

Ander eetversteurings wat kinders en tieners kan raak, sluit anoreksie, bulimie en eetbuistoornis in. Anoreksie behels onder meer ernstige voedselbeperking wat dikwels met ’n vrees vir gewigstoename of ’n versteurde liggaamsbeeld verband hou. Bulimie word gekenmerk deur  herhalende episodes van ooreet, gevolg deur gedrag om gewigstoename te probeer voorkom, terwyl eetbuistoornis (binge eating) herhalende episodes van ooreet met ’n gevoel van verlies aan beheer behels.

Pica is ’n toestand waarin ’n persoon aanhoudend nie-voedselstowwe, soos grond of papier, eet op ’n manier wat nie by hul ontwikkelingsvlak pas nie. By herkou-versteuring kom ingeslukte kos herhaaldelik terug in die mond en word dit soms weer gekou, ingesluk of uitgespoeg. Hierdie toestande verskil in hul simptome en behandeling. Nie elke kind wat kieskeurig eet, het ’n eetversteuring nie, maar wanneer eetgewoontes ’n kind se gesondheid, groei of daaglikse lewe beïnvloed, is ’n professionele beoordeling belangrik.

Wanneer moet ouers dringend hulp kry?

Moenie wag vir ’n gewone afspraak as ’n kind vinnig gewig verloor, tekens van dehidrasie toon, baie swak raak of byna niks inneem nie. Kry dringend mediese hulp.

Waar kan ouers hulp kry as hulle vermoed dat hul kind se beperkte eetgewoontes sy of haar gesondheid of ontwikkeling beïnvloed?

Die eerste stap is om ’n huisdokter of pediater te raadpleeg. Die dokter kan die kind se groei, gewig en voedingstatus beoordeel en, indien nodig, na ’n dieetkundige en sielkundige met ervaring in eetversteurings verwys. Behandeling behels dikwels ’n span kundiges wat saamwerk.

Dr. Anita Parbhoo – pediater, Eating Disorders South Africa (EDSA): 081 444 7000

Druk hier om dr. Parbhoo se artikel te lees.

Bronne: Mediclinic Dr. Parbhoo, Eating Disorders South Africa