’n Nasionale ampsdraer van die All Truck Driver Forum South Africa (ATDF-SA) is in hegtenis geneem deur die polisie in KwaZulu-Natal. Volgens bewerings het hy Saterdagoggend geweld langs die N3 suidwaarts naby Bergville aangehits.
’n Polisieverslag dui aan dat beamptes wat patrollies op die N3 gedoen het, gesien hoe die verkeer stadiger ry en uiteindelik tot ‘n stilstand kom. Na ‘n ondersoek het ’n die beamptes ‘n groep van sowat 10 mense ontdek wat vragmotors op die pad voorgekeer het.
Die groep het op vlug geslaan en het ‘n wit Isuzu-bakkie met oop deure agtergelaat.
Binne-in die voertuig het beamptes ‘n ATDF-SA-banier en klippe gevind. Voorlopige ondersoeke het die voertuig met ‘n prominente ATDF-SA-ampsdraer verbind.
Die beamptes was nog op die toneel toe hulle ‘n verdagte wit VW Polo opmerk wat noordwaarts op die N3 ry. Na bewering het die voertuig daar aangekom om die eienaar van die verlate bakkie op te laai.
Polisie het die bestuurder van die Polo en ’n passasier saam met die eienaar van die bakkie in hegtenis geneem. Die bestuurder en sy passasier is as vragmotorbestuurders geïdentifiseer.
Luidens die polisieverslag word die bakkie-eienaar moontlik ook verbind met die gooi van klippe na ‘n bus by die N3 Colenso-wisselaar kort voor sy inhegtenisneming.
Namate die ondersoek vorder kan meer aanklagtes moontlik bygevoeg word.
Bron: Truck & Freight | SABC Nuus





