VSA. – Die 11 maande oue Koah Sharpe is Dinsdag 10 November lewend begrawe in ‘n hondehok in ’n bosgebied naby Batesburg-Leesville, Suid-Carolina, gevind nadat lede van ’n soekspan hom onder die grond hoor huil het. Sowat 100 wetstoepassers het aan die soektog deelgeneem nadat hy Maandag vermis geraak het. Sy pa is in hegtenis geneem.
Jay Koon, balju van Lexington County, het op ’n nuuskonferensie gesê die soekspan het vars omgewoelde grond naby die huis van Koah se oupa aan vaderskant opgemerk. Toe hulle begin grawe, het hulle hom hoor huil. Hulle het hom in ’n handdoek toegedraai in die hok gevind. Owerhede skat dat hy sowat 24 uur onder die grond was.
Volgens ’n verklaring wat die balju se kantoor voor die redding uitgereik het, het Koah se pa, Michael Comer (25), hom Maandag 9 November saamgeneem. Ondersoekbeamptes het vasgestel dat Comer dié dag op verskeie plekke in Lexington County was. Beamptes van die balju se kantoor het hom laat Maandagaand op ’n aanklag van huisbraak in hegtenis geneem. Koah was toe nie by hom nie. Staats- en federale agente, onder wie lede van die FBI en ATF, het met die soektog gehelp. Volgens Koon kan verdere aanklagte Comer in die gesig staar.
Bronne: Lexington County-balju, WIS News 10 en WJCL