GAUTENG. – Die departement van maatskaplike ontwikkeling in Gauteng het diegene wat betrokke is by die praktyk van bababokse, gewaarsku dat hulle aanspreeklik gehou sal word indien enigiets met baba Nandi sou gebeur. Daar is tans ‘n hofsaak tussen die departement en Babysavers SA aan die gang.
Volgens Baby Savers SA is die baba op 26 Augustus by Tree of Hope in Edenvale geplaas. Loné Fourie van Tree of Hope, wat die bababoks oopgemaak het, het onmiddellik die noodknoppie vir die Mamba Strike Force geaktiveer. Mamba en EMER-G-MED het binne minute op die toneel opgedaag en die baba na ’n mediese sentrum vervoer waar ’n mediese span reeds gewag het. Die baba ly aan hidrocefalus. Die baba se ma het ’n brief agtergelaat waarin sy sê sy het probeer om hulp te kry, sonder sukses. Volgens die organisasie het administratiewe prosedures van die departement van maatskaplike ontwikkeling vir Nandi toegang tot dringende mediese sorg verhoed. Baby Savers SA het benadruk dat die voorval die belangrikheid van veilige toevlugplekke en wetgewing vir babas in Suid-Afrika onderstreep.
Teddy Gomba, woordvoerder vir die departement, sê in ‘n verklaring die wet maak geen voorsiening vir die praktyk van bababokse nie. Die praktyk is onwettig. Babaversorgers moet aanspreeklik gehou word sou enigiets met die baba gebeur.
Die departement het die publiek aangemoedig om enige inligting oor diegene wat bababokse gebruik of bevorder, aan die owerhede te gee. Ook word beklemtoon dat die departement as bewakers van die wet verantwoordelik is vir die sorg en beskerming van kinders. Die departement het verder gemeld dat hulle samewerking met ander owerhede sal voortduur om die welstand van kinders te beskerm.
Baby Savers SA sê voorts in ‘n sosialemediaplasing die Kinderwet bepaal dat maatskaplike werkers verplig is om statutêre dienste te verskaf aan kinders wat sorg en beskerming benodig. “Geld dit vir alle kinders? Dit blyk nie so te wees nie. ’n Baba met ernstige spesiale behoeftes is onlangs in ’n bababoks geplaas en het nie slegs nie hierdie dienste ontvang nie, maar is ook van broodnodige mediese sorg weerhou. Hierdie klein meisie is op haar sterfbed. Wie sal aanspreeklik gehou word vir hierdie sinnelose gedrag? Aan wie se hande sal haar bloed wees? Wie sal verantwoordelikheid aanvaar vir die ontkenning van sorg en beskerming aan ’n kind wat dit benodig – presies dit? Dankie aan diegene wat wel omgee en ’n verskil maak.”
#forsakenchildren #saversaveslittlelives #allchildrenmatter
Bronne: Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, Conviction.co.za, Baby Savers SA en Tree of Hope

