VRYSTAAT. – Die departement van landbou en landelike ontwikkeling het aangekondig dat nog vier nuwe gevalle van bek-en-klouseer in die provinsie bevestig is. Dit bring die totaal bevestigde gevalle in die Vrystaat op 30 te staan.
Volgens die departement is daar tans ses geïdentifiseerde uitbreekgebiede oor vyf plaaslike munisipaliteite: Kroonstad (Moqhaka-munisipaliteit) – nege bevestigde gevalle, Viljoenskroon (Moqhaka-munisipaliteit) – 11 bevestigde gevalle, Deneysville (Metsimaholo-munisipaliteit) – een bevestigde geval, Cornelia/Frankfort (Mafube-munisipaliteit) – ses bevestigde gevalle, Heilbron (Ngwathe-munisipaliteit) – twee bevestigde gevalle en Odendaalsrus (Matjhabeng-munisipaliteit) – een bevestigde geval. Die departement sê die prioriteit bly die inenting van diere op besmette plase. Inperkingsmaatreëls is op alle plase binne ’n 10 km-sonering van die besmette gebiede ingestel.
In ’n verklaring sê die departement: “Ons doen ’n beroep op alle boere, rolspelers in die veesektor en die publiek om saam te werk om die verspreiding van die siekte te beperk. Ons vra dat enige onwettige beweging van diere onmiddellik gestop word en dat alle verdagte gevalle by die plaaslike staatsveearts aangemeld word.”
Die departement het ook beklemtoon dat die publiek streng moet hou by bioveiligheidsmaatreëls, insluitend die ontsmetting van voertuie en toerusting, die kwarantyn van nuwe vee vir 28 dae voordat dit by bestaande kuddes gevoeg word, en die byhou van akkurate rekords van alle dier- en besoekersbewegings op plase. Die departement sê: “Ons kan die verspreiding van die siekte net beperk as ons saamwerk en alle verdagte gevalle onmiddellik aanmeld.”
Lees meer hier onder:







