’n Nasionale oudit deur die demokratiese alliansie (DA) het bevind dat ’n groot aantal polisiekantore in Suid-Afrika nie telefonies bereik kan word nie, wat vrae laat ontstaan oor die publiek se toegang tot polisiedienste. 571 polisiekantore antwoord nie telefone nie.
Ian Cameron, DA-polisiewoordvoerder en die voorsitter van die polisie se porteultekomitee sê die party het 1 025 polisiekantore regoor al nege provinsies getoets deur amptelike telefoonnommers te skakel. Volgens die resultate het 571 stasies nie geantwoord nie, terwyl 454 wel op een of albei nommers reageer het. Dit beteken dat ongeveer 56% van die polisiekantore nie bereikbaar was nie. Limpopo het die swakste resultate getoon, waar die oorgrote meerderheid stasies nie die oproepe beantwoord het nie. Die Vrystaat het ook onder die provinsies met swak bereikbaarheid getel. Die oudit het ook bevind dat selfs sommige hoë-misdaadgebiede se stasies nie telefonies bereikbaar was nie, wat kommer wek oor dienslewering en noodreaksievermoë.
Die DA sê die bevindings stem ooreen met probleme wat reeds by die 10111-noodkommunikasiesentrum uitgelig is, insluitend personeeltekorte en verouderde tegnologie. Die party meen dat ’n polisiediens wat nie maklik bereikbaar is nie, nie sy pligte doeltreffend kan uitvoer nie, en sê die verslag sal aan die minister van polisie en die nasionale polisiekommissaris voorgelê word vir verdere optrede.





