Brekende Nuus
Nuus

‘Bedrogsindikaat’ ontmantel wat goedere op swartmark verkoop

Foto: SAPD

WES-KAAP. – ’n 37-jarige man is Donderdag (5 November) in Kensington in hegtenis geneem nadat goedere ter waarde van R432 745 tydens ’n polisieondersoek na ’n beweerde bedrog-sindikaat teruggevind is. Die sindikaat het na bewering hardewarewinkels geteiken en vals identiteitsdokumente gebruik om goedere op krediet aan te koop, waarna dit op die swartmark verkoop is.

Die ondersoek hou verband met verskeie bedroggevalle wat in die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal, Oos-Kaap en Gauteng aangemeld is. Konst. Ndakhe Gwala, polisiewoordvoerder, sê misdaadintelligensie het verskeie stoorkamers in die provinsie geïdentifiseer wat glo deur die verdagtes gebruik is. Die polisie het Donderdag ’n stoorkamer in 11de Straat, Kensington, dopgehou nadat hulle inligting ontvang het oor ’n aflewering van goedere wat na bewering bedrieglik by ’n onderneming in Oos-Londen aangekoop is. Die man wat die goedere ontvang het, is in hegtenis geneem op aanklag van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.

Hy sal na verwagting Maandag in die Kaapstadse landdroshof verskyn. Die polisie verwag verdere inhegtenisnemings namate die ondersoek voortgaan.