LIMPOPO. – ‘n Bejaarde vrou (81) is op 9 Julie met sigbare beserings aan haar gesig buite haar huis aangetref. Sy is met aankoms by ‘n hospitaal dood verklaar.
Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê Senwabarwana-polisie is op soek na ‘n verdagte. Die bejaarde vrou het na bewering nie teruggekeer ndat sy haar huis verlaat het nie. Sy is die volgende oggend beseer deur ‘n familielid buite die huis aangetref.
Volgens die polisie het die vrou aangedui dat sy deur ‘n onbekende man aangerand is. Die verdagte het haar glo herhaaldelik geskop voordat hy met klere waarin ‘n onbekende bedrag kontant was, gevlug het. Die vrou is na ‘n plaaslike hospitaal gehaas, maar is daar dood verklaar.
Voorlopige ondersoeke het die polisie na ‘n man gelei wie se naam tydens die ondersoek genoem is. Hy het egter glo ontken dat hy die vrou aangerand of beroof het en is nie in hegtenis geneem nie, aangesien die ondersoek voortduur.
Die familie het intussen reëlings getref om die oorledene se liggaam na ‘n plaaslike begrafnisondernemer te neem, sonder om die voorval eers by die polisie aan te meld. Toe die polisie by die begrafnisondernemer kom, is kneusmerke aan die liggaam opgemerk en is ‘n moordsaak vir verdere ondersoek geopen.
Die polisie se soektog na die verdagte duur voort en enigiemand met inligting wat tot sy inhegtenisneming kan lei, word gevra om die ondersoekbeampte, sers. Jane Maruapula, by 068 518 5349 te bel.





