KWAZULU-NATAL. – ‘n Bejaarde egpaar is Donderdagoggend tydens ‘n huisroof in Longcroft, Phoenix, aangeval. ‘n Aanvaller het glo in die erf ingespring en ’n hek oopgedwing terwyl die egpaar binnenshuis met hulle oggendtake doenig was.
KZN VIP Protection Services se nooddienste sê in ‘n sosialemediaplasing die aanvaller het glo albei die slagoffers brutaal aangeval voordat hy die huis deursoek het. Hy het na bewering ‘n onbekende hoeveelheid waardevolle items gebuit en daarna van die toneel gevlug. ’n Inwoner kon ’n gedeeltelike foto van die verdagte verskaf, wat die ondersoek kan help. Die egpaar is op die toneel deur paramedici behandel en daarna vir verdere mediese versoriging na ’n nabygeleë hospitaal vervoer.
Inwoners word deur dié diens gewaarsku om waaksaam te wees en indien moontlik, tydens ‘n huisroof in ’n gesluite kamer te skuil. Konfrontasie moet vermy word, aangesien verdagtes dikwels gewapen en gevaarlik is. Enigiemand met inligting wat kan help, word versoek om die polisie te kontak.





