OOS-KAAP. – Bek-en-klouseer is by koedoes in die Addo-olifant Nasionale Park bevestig nadat opvolgtoetse op monsters van aangetaste diere positief getoets het. SANParke het Dinsdag bevestig dat die aanvanklike toetse negatief was, maar dat verdere ondersoeke die teenwoordigheid van die virus bevestig het.
Die park bly oop vir toeriste en die siekte hou volgens SANParke nie ’n risiko vir mense se gesondheid in nie. JP Louw, SANParke-woordvoerder, sê die departement van landbou is ingelig nadat die park se toesig oor wildgesondheid ’n toename in mankheid onder koedoes getoon het.
Geen ander wildspesies in die park toon tans kliniese tekens wat met bek-en-klouseer ooreenstem nie. Die positiewe uitslag bevestig die virus in die getoetste koedoes, maar bepaal nie waar die besmetting ontstaan het, hoe dit versprei het of of dit met ander uitbrekings in die Oos-Kaap verband hou nie. Dié aspekte word deur veeartsenykundige owerhede ondersoek.
Biosekuriteitsmaatreëls is verskerp, insluitend die ontsmet van voertuie voordat hulle aangewese wildkykgebiede verlaat. Diere met gesplete hoewe mag nie die park binnekom of verlaat sonder toestemming van die betrokke veeartsenykundige owerheid en die vereiste risikobeoordeling nie.
Besoekers moet alle toegangs-, bewegings- en biosekuriteitsinstruksies nakom.