HERMANUS. – Die lewensgrootte Suidelike Noordkapper-walvis van glasvesel wat die Hermanus-markplein versier het, is op pad na ‘n nuwe tuiste.
Plaaslike inwoner René Hartslief, bekend vir haar werk in die gemeenskap, en kunstenaar Tertius van Dyk, het aan die begin van 2022 die gemeenskap betrek om dié walvis op te knap as ’n toeriste-aantreklikheid vir die dorp. Sy is eenparig deur inwoners as Wendy gedoop.
Volgens Hartslief was die besluit om dié monument te verskuif egter nie ’n openbare besluit nie. Hartslief verduidelik dat daar na verwagting ’n Suid-Afrikaanse Walvissentrum gebou sal word wat na beraming sowat R143 miljoen sal kos.
“Ek is ook ingelig dat hulle die area gaan gebruik as ’n Whale Legacy Walk,” het Hartslief bygevoeg.
Sien ook: PERHAPS THIS EXPLAINS WHY OUR WHALE WAS REMOVED
https://www.facebook.com/share/p/176np6wsQt
Volgens oorvertelling het Wendy, ’n enkellopende walvis, in die 1930’s in Hermanus uitgespoel. Die verhaal lui dat bykans die hele Hermanus byeengekom het om haar weer in die see te kry. Wendy het daarna glo jaarliks teruggekeer en is sy as deel van die gemeenskap beskou.
Wendy is een van drie lewensgrootte glasveselwalvisse wat in ’n rolprentproduksie gebruik is. Ná afloop van die produksie is die walvisse aan die Overstrand geskenk. As monument op die Hermanus-markplein was Wendy ’n bekende gesig. Sy was selfs toegerus met klanktoerusting wat walvisgeluide gespeel het.
Wendy is tans by die pikkewynperseel buite Gansbaai vir opknapping, waarna sy ’n nuwe tuiste in Kleinbaai sal kry.





