Bekommernis is normaal
As ouer is dit normaal om bekommerd te wees oor jou kind se toekoms. Dit is deel van ouerskap. ‘n Gesonde hoeveelheid bekommernis motiveer jou om grense te stel en jou kind veilig en op die regte pad te hou. Maar baie van ons bekommernis is oordadig, en dit maak nie juis sin nie, veral wanneer ons bekommerd is oor wat ons kind se gedrag vandag vir sy toekoms gaan beteken.
Wat “futurizing” is
In sielkunde praat ons van “futurizing”. Dit is een van die negatiefste en mees destruktiewe dinge wat ‘n ouer kan doen. “Futurizing” maak ons so angstig dat dit ons vermoë knou om probleme op te los en ons kind te help. Dit maak jou meer veroordelend en krities, en dit bevorder katastrofiese denke.
In plaas van om op die hier en nou te fokus en die volgende regte ding te doen, fokus jy op ‘n donker toekoms wat jou hulpeloos laat voel, want jy kan dit nie beheer nie. Ouers en kinders het reeds genoeg alledaagse, regte probleme om aandag aan te gee. “Futurizing” is ook baie skadelik vir die ouer-kind-verhouding. Die probleem waaroor jy bekommerd is kan juis groter raak as gevolg van jou bekommernis.
Fokus op vandag
Hou op om al jou energie op bekommernis oor die toekoms te sit. Jy is dalk nie gelukkig met jou kind se gedrag nie, maar dit is meer hanteerbaar om dít uit te sorteer as om sy toekoms te probeer uitpluis. Onthou, kinders verander. Hulle groei, ontwikkel en raak volwasse (dankie tog), so moenie jou kind se huidige situasie na die toekoms projekteer nie. Is jy nog dieselfde persoon as wat jy op 15 was?
Wees objektief
Vra vir jouself: wat sien en hoor ek? Wat is hier voor my? Wat is die feite? Hou in gedagte dat die manier waarop jy jou kind sien dalk meer oor jou gaan as oor die kind. Tree op asof jou kind verantwoordelik is. As ons glo ons kind is onverantwoordelik, is dit wat ons sal sien. Al is hy nege uit tien keer verantwoordelik, fokus ons op die een keer wat hy nie was nie en gebruik dit om ons oortuiging te bevestig.
Vier vrae om jouself te vra
- Wat is die kans dat my ergste vrese waar word? Is dit realisties?
- Hoeveel van my vrese is feite teenoor verbeelding?
- Hoekom is ek oor dié een ding bekommerd? Gaan dit regtig oor my kind, of oor ‘n projeksie van my kant af?
- Maak ek gevolgtrekkings? Veralgemeen ek en maak ek dinge erger as wat dit werklik is?
Deur dié vrae eerlik te antwoord, kan jy ophou bekommer oor die toekoms en fokus op dit wat voor jou is, waarvoor jy nou ‘n oplossing kan kry. Vertrou dat jou kind gaan groei en verander. Vertrou ook dat jy in jou ouerskap gaan groei.
Bron: Empoweringparents.com.
Meer oor Stefanie
Stefanie Minnaar is ‘n pastorale narratiewe terapeut en ‘n neuro-, loopbaan- en welstandsafrigter wat met tieners, studente en soms ouers werk. Sy help met graad nege se vakkeuses en met graad 11 en 12 se loopbaanbeplanning. Sy begelei ook tieners en jong volwassenes om hulle volle potensiaal op persoonlike en professionele vlak te bereik deur middel van lewensafrigting.
Sy is die trotse ma van ‘n 22-jarige dogter en ‘n seun wat in Augustus 21 word. Sy het self die tienerjare (net-net) oorleef om die storie te vertel.
Stefanie is die stigter van die Facebook-groep Ouer-Tiener Harmonie, waar sy onderwerpe op die tafel sit sodat ouers met mekaar kan skakel, raad kan gee en stories kan deel om mekaar deur die (soms) stormagtige tienerjare te help. Sluit gerus aan by die groep, of kontak Stefanie by [email protected].





